Waarom sou Prinsloo relevant wees vir 'n jonger geslag?

Tydskrif vir Letterkunde, Autumn, 2009 by Neil Cochrane

Koos Prinsloo verhale. Koos Prinsloo. Kaapstad: Human & Rousseau. 2008. 384 pp. ISBN: 13 978-0-7981-4940-2.

Koos Prinsloo (1957-1994) was weens verskeie redes 'n omstrede figuur wat 'n aantal literere grense verskuif het. Hy was 'n Afrikaanse kortverhaalskrywer van eerstes--die eerste om die skeidslyn tussen feit en fiksie radikaal te ondermyn, die eerste om etiese kodes rakende privaatheid, vriendskap en kollegialiteit in sy werk te verontagsaam, die eerste om die donker en brutale kant van homoseksuele identiteit oop te vlek, die eerste om in al sy vorme te wys "... hoe hard die liefde tussen mans moet wees", die eerste om raak verbande tussen patriargale mag, politieke geweld en seksualiteit te le en die eerste om vigs as tema in sy werk te ontgin. Oor hierdie en ander vernuwende aspekte in sy werk is reeds in enkele navorsingstudies berig waarvan die belangrikste seker Riana Scheepers se Koos Prinsloo: Die skrywer en sy geskryfdes (1998) is.

Dit is verblydend dat Human & Rousseau besluit het om Prinsloo se vier kortverhaalbundels, Jonkmanskas (1982), Die hemel help ons (1987), Slagplaas (1992) en Weifeling (1993) in een band onder die titel Koos Prinsloo verhale (2008) uit te gee. Hierdie publikasie sluit aan by 'n hernieude belangstelling in Prinsloo se werk soos gesien kan word in die onlangse seminaar oor sy skrywerskap op Litnet en Gerrit Olivier se Aantekeninge by Koos Prinsloo (2008). Laasgenoemde dien as aanvullende bron tot die 41 saamgebundelde kortverhale opgeneem in Koos Prinsloo verhale.

Daar is 'n aantal redes waarom die vars bemoeienis met Prinsloo se werk belangrik is. Eerstens verstewig dit Prinsloo se posisie binne die Afrikaanse literere kanon, tweedens kan dit jonger navorsers aanspoor tot verdere navorsing oor sy werk en derdens word sy tekste opnuut vir 'n jonger geslag lesers beskikbaar gestel om na waarde te skat.

Die doel met hierdie bespreking is nie om literer-kritiese kommentaar oor individuele tekste in Koos Prinsloo verhale te lewer nie, maar om 'n bepaalde (en noodwendig subjektiewe) perspektief te bied op die relevansie van Prinsloo se werk vir 'n nuwe en jonger generasie lesers en/of navorsers. Daarom gaan ek grootliks duiwels advokaat (hopelik 'n regverdige een) speel en my perspektiewe sal noodwendig hipoteties, selfgeobsedeerd en spekulatief van aard wees, maar eerstens is 'n paar konteksskeppende aantekeninge nodig.

Ek was 'n vyftienjarige hoerskoolseun toe Prinsloo in 1994 weens vigsverwante oorsake oorlede is. Ek het sy verhale eers vier jaar later as negentienjarige eerstejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria ontdek. Vir my het hierdie ontdekking grootliks saamgeval met die erkenning, ontdekking en belewing (hoe absurd en naief dit ook met tye was) van my eie seksualiteit. Prinsloo, Danie Botha en Johan de Lange se werk het sekere aspekte van die gaybestaan vir my oopgemaak, dit het my insig gegee in die literere verwerking van die homoseksuele kondisie en vir my as 'n soort verwysingspunt gedien. Dit was bevrydend om hul werk na klastyd te lees en te besef dat dit oukei is om oor gayervarings te skryf, dat dit oukei is om daarmee te identifiseer, maar ook om jouself daarvan te distansieer.

My hoerskooljare (1992-1996) was 'n tyd van ingrypende politieke transformasie in Suid-Afrika--die eerste swart meerderheidsregering het aan bewind gekom, swart kinders het saam met my begin skoolgaan, ek het geen oproepinstruksies in standerd 9 ontvang nie, veldskool en kadette is summier afgeskaf, selfone, e-pos en ander tegnologiese wonders het my wereld begin oorneem, 'n liberale grondwet ter beskerming van menseregte is aangeneem, gayregte is formeel juridies bekragtig met gevolg dat gays vir die eerste keer uit hul gate gekruip het, ensovoort. Weens sy vroegtydige afsterwe in 1994 het Prinsloo nie een van hierdie dinge meegemaak nie.

Dit is nou veertien jaar later. Dit is die jaar 2008 en ek is 29 jaar oud. Intussen is Prinsloo se Sogenaamde Vriend Die Pop Ster ook oorlede. Die afsterwe van die Skrywer en sy Geskryfdes lei tot noodwendige relativering. Daarbenewens ken lesers en navorsers van om en by my ouderdom die beste en die slegste van beide die ou en nuwe bedeling.

Ons laerskooljare het gestrek van 1985-1991--hierdie was noodtoestandjare, ons kan onthou van hoe jy onder jou skoolbank moes induik as daar drie kort klokke gelui word, ons onthou plakkate (in elke liewe klaskamer) wat elke denkbare soort bom of landmyn vertoon het, ons onthou hoe geel Casspirs die laerskoolterrein op elkeen van sy vier hoeke bewaak het en ons onthou flou grappies wat ons vir mekaar tydens pouses vertel het, grappies soos: Waarom hou swartes so baie van Matabelapap? Omdat dit verryk is met vitamiene A en C. Baie van ons het ouer broers of nefies gehad wat trots vir jou 'n ratpack van die army gebring het, vir 'n agtjarige seuntjie was so 'n gebaar, 'n heldedaad in die kleine.

Ons as die jongste en laaste tusseningenerasie kan vandag waardering he vir die grensverskuiwende bydrae wat Prinsloo gelewer het, omdat ons wel iets van die werelde begryp wat hy in sy verhale aan ons voorhou, maar dit stel ons ook in staat om meer krities en selfs afstandelik teenoor sy werk te staan, want Prinsloo se kwessies is grootliks nie meer ons kwessies nie. Ons is die generasie wat swaar dra aan die erfporsie wat die ou ooms uit 'n ander era aan ons bemaak het. Sommige van ons reis na Londen, Doebai, Toronto en godweet waarheen nog op soek na 'n werkie in die son, sommige van ons verlang na Wielie Walie, ander staan op aandag op die maat van "De la Rey", ander bid saam met oom Angus en sy leerskare op Loftus, sommige van ons kruip weg in ons sekuriteitskomplekse, terwyl die aanslae van buite woed en ander wil net uitgelos word om te doen wat hulle moet, om hulle bydrae op dinamiese en innoverende wyse in 'n uiters komplekse en paradoksale Suid-Afrika te maak.

 

BNET TalkbackShare your ideas and expertise on this topic

Please add your comment:

  1. You are currently: a Guest |
  2.  

Basic HTML tags that work in comments are: bold (<b></b>), italic (<i></i>), underline (<u></u>), and hyperlink (<a href></a)

advertisement
Click Here
advertisement
  • Click Here
  • Click Here
  • Click Here
advertisement

Content provided in partnership with Thompson Gale