Noudat slapende honde

Tydskrif vir Letterkunde, Autumn, 2009 by T.T. Cloete

Noudat slapende honde.

Ronelda Kamfer. Kaapstad: Kwela Boeke.

2008. 48 pp. ISBN: 978-0-7957-0273-0.

Die gedigte in Ronelda Kamfer se Noudat slapende honde is hoofsaaklik sosiale figuurstudies, en dan wel van die soekende mens. "ek soek 'n goue sterretjie" is 'n goed tiperende titel van een van die gedigte. Sy soek met name 'n staanplek in die samelewing. In die openingsgedig, "Waar ek staan", se sy: "erens diep binne my/weet ek waar ek staan," en die slotvers van die slotgedig lui: "ek staan nog steeds". Hierdie twee gedigte staan albei in opvallende plekke in die bundel. Tog weerspreek die meeste gedigte hierdie sekerheid, en dit is belangrik om daarop te let dat die soekende, onsekere mens voorop staan in 'n derde gedig wat self 'n opvallende plek in die bundel inneem, naamlik die titelgedig: "Noudat ek Afrikaans praat/[...] soek die verlede my nog steeds in die reen". Die "ek" van hierdie gedigte is 'n ontwortelde mens in 'n nuwe wereld. Dis 'n nuwe mens wat die self nog nie goed deurgrond het nie en dit gee aan die hele bundel 'n tragiese ondertoon.

Die gedigte praat van allerlei voornemens om 'n nuwe mens te wees ("Dame in progress"), maar dit word nie 'n werklikheid nie: "vandag is alles wat mooi is, lelik/en alles wat lelik is, ek" ("bipolarhoney"). Ons het hier te make met 'n wereld van stukkende drome wat le "oppie vlaktes" van die Kaap, weggooidrome. Daar is 'n verlede wat jou agtervolg soos 'n skadu, 'n inslaap net om weer ontnugter wakker te word.

Die gedigte weerspreek mekaar, in die gunstige sin van die woord. Daar is "'n foto van myself/op 6 jaar oud/besig in die tuin/ om geheime te begrawe," ("dood in die familie"), maar aan die ander kant tog weer kry sy die verlede nie afgeskud nie en leef sy in 'n wereld van "haat en onthou" ("Daar is sekere dinge"); sy "sukkel/om uit die toue los te kom" ("wees"). Dis gedigte van stukkende menslike verhoudings, familie- en gesinsver-houdings, veral van die verhoudings ma/pa/ kind. Sy is "niemand se kind nie" ("wees"). "Pick n Pa" het 'n ironiese titel (met 'n toespeling op Pick and Pay?), want nie een van die baie keuses vir 'n pa is 'n gelukkige keuse nie, en die slot is pynlik. Sy praat van "die gemors van familiewees" ("dood in die familie"). Daar is ook stukkende verhoudings in die vriendekring: "kliek van sewe" vertel van 'n roekelose lewe wat eindig in verdrinking van die hooffiguur. Lolla was kunssinnig maar sy het 'n ellendige bestaan gevoer en 'n ellendige einde beleef. Iets dergeliks lees mens ook in ander gedigte ("Die storie van Klonkies" of "'n gewone blou Maandagoggend").

En daar is stukkende liefdesverhoudings soos in "To all the boys I loved before". Sy het keuses gehad onder die boys wat sy liefgehad het maar sy het nie een van hulle gekry het nie. Daar is so baie keuses wat die jongmens gehad het, wat op pyn uitgeloop het. Sy is uiteindelik "liefdeleeg".

Hoe ironies dan dat sy die mooie en goeie wat sy self nie het nie aan 'n ander toewens ("Nag"). Alles is nie grou nie, daar is ook liefde, of die behoefte aan liefde ("Ek wil").

Die bundel is vol portrette, veral selfportrette, of 'n mens kan dit tegelyk minatuurbiografiee noem. Sy is 'n "Tweeling", 'n persoon in haarself verdeel. Veral dink ek aan "en as ek klaar my verhaal vir jou vertel het", waar "ek myself sien sit [...] ek gaan staan en vir myself kyk [...] ek gaan myself haat". Maar daar is ook volop portrette van ander figure, soos "die huisvrou" en van baie ander mense. Kamfer het 'n skerp oog. Sy kan iemand met 'n enkele penneveeg teken, soos Uncle Jonny: "sy ore het beweeg wanneer hy sy kos kou" ("wees"). Kamfer weet ook genoeg hoe om van triviale en banale dinge gedigte te maak.

Hierdie bundel wys vir ons 'n aandoenlike wereld, so aangrypend dat die digter nie al die lyflike taal nodig het waarmee sy die leser wil wakker skok nie. Haar vers steun ook nog te veel op die aandoenlike van die onderwerp self en is daarom dikwels nog onvolgroeid en fragmentaries. Maar desnieteenstaande bly dit 'n pakkende bundel gedigte.

Ondanks sekere tekortkominge of nog 'n sekere onvolgroeidheid weet Kamfer tog soos sy in die openingsgedig se baie goed waar sy staan.

T. T. Cloete

Professor-emeritus

Noordwes-Universiteit, Potchefstroom

COPYRIGHT 2009 Tydskrif vir Letterkunde
COPYRIGHT 2009 Gale, Cengage Learning
 

BNET TalkbackShare your ideas and expertise on this topic

Please add your comment:

  1. You are currently: a Guest |
  2.  

Basic HTML tags that work in comments are: bold (<b></b>), italic (<i></i>), underline (<u></u>), and hyperlink (<a href></a)

advertisement
advertisement
  • Click Here
  • Click Here
  • Click Here
advertisement

Content provided in partnership with Thompson Gale