Vlamsalmander

Tydskrif vir Letterkunde, Autumn, 2009 by Joan Hambidge

Vlamsalmander.

Hennie Aucamp. Pretoria: Protea Boekhuis

2008. 115 pp. ISBN: 978-1- 86919-246-4.

Op dieselfde tyd wat Hennie Aucamp se digbundel Vlamsalmander by Protea verskyn, publiseer J. C. Steyn 'n soort outobiografiesecum-historiese teks, Sonkyker, 'n Vrystaatse salmander. Dit is dan ook metafoor vir die alleenstaander, die eenspaaier en by Aucamp staan die vlamsalmander vir die poetiese woord en besinning oor die kuns. In hierdie Aucamp-bundel met 'n foto van 'n boom wat soos 'n salmander lyk deur Mark van Coller, word verskeie tipies Aucamp-temas onder die loep geneem. (Dis glo 'n witgatwortelboom en pas in by die digter se reeks kwatryne oor bome.) Die leser is altyd bewus van die kunstenaar /skrywer se blik op die werklikheid, soos onder andere, interpretasies by skilderye van Rembrandt, kommentaar by sewe litografiee van Picasso, 'n gedig oor/vir Ingrid Jonker. 'n Sub-titel by 'n skildery van Lucas Cranach, staan onderaan 'n gedig. Dit tipeer dan 'n soort stylsoort, 'n kommentaar op die kuns, die nagebootste wereld, die simulacrum.

Uiteraard is hierdie soort portret-vers ter-selfdertyd 'n dubbelspraak, of kan as sodanig getipeer word: die digter lewer kommentaar op Piet Mondrian of Irma Stern en op 'n implisiete wyse slaan dit terug op die skrywer se siening van die liefde. Die drieluik oor Stern is knap.

In die Kongo en elders Sy het fel, verbete, laat Romanties, haar primitiewe self gaan soek en stel in weelderige prosa haar binnereis ten boek.

By die gedig oor Mondrian vind ons die woord "tinteldronk" wanneer die kunstenaar sy kuns soos jazz op seildoek uitstal. Aucamp is 'n vormvaste digter. Dit weet ons uit sy beoefening van die Shakesperiaanse sonnet in Dryfhout (Tafelberg, 2006), sy verskeie kwatryne wat hy skryf, sy hantering van die haikoe. Sy gedigte erken die belang van metriese patrone en ons vind dan die haikoes hier wat by Strijdom van der Merwe se uitstalling gebruik is en kwatryne by die wyn. So klink 'n lekker wyn-kwatryn:

Ars poetica Trap die korrels in die vat dat dop en sap baldadig spat: Van liewerlee word vroee pyn verdig tot onbetrokke pyn.

In vele van die gedigte is daar dan 'n besinning oor die verhouding tussen kuns en ek/ persona. Moet die digter wegskryf van die self of kan die self-bemoeienis eweneens tot kuns lei? In hierdie opsig is die Rembrandtgedigte openbarend juis omdat hierdie skilder hom besig gehou het met hierdie komplekse problematiek.

Die aangrypende "Rembrandt-selfportret, 1669" vra dan die belangrike vraag oor hoe die ek lyk wat deur ondervinding verslyt is?

In "Beurtrym", 'n distigon, kan 'n mens 'n antwoord lees op Eybers se "Wespark". Hier lees ons:

'n Man het aan sy hart beswyk terwyl hy worstel met sy steak.

'n Ander ou sterf op die troon: Sy drukwerk is fataal beloon.

En nog 'n man dood op die jop: Sy kom en gaan was sonder stop. [...]

Die gedigte het soms 'n boodskap, 'n moraal, soos "Die neefs" of in die genoemde "Beurtrym" waarin daar 'n wysheid oor die mens se lot uitgewys word. Die digter dig met "stipte aandag", vormvas en die leser is deeglik bewus van 'n fyn woordkunstenaar.

Die gesprekke is daar, soos "Herfs" wat inspeel op Van Wyk Louw se "Vroegherfs":

Die dae is reeds heilig en vra om geen gebed--

Aucamp se bekende ondersoek van die seksuele is hier te vind (ja, die lul en ballas) en sy aktivering van ou woorde soos "nurks", "portiek", o.a.

Die portretverse oor Marjorie Wallace, Battiss, Piet Mondrian, Rembrandt, Irma Stern, Picasso, Rodin, e.a. gee 'n duidelike bemoeiens met die kuns weer.

Persoonlik is Aucamp vir my op sy beste wanneer hy 'n puntdig, haikoe of kwatryn skryf. Hy het 'n besondere gawe om met 'n klein kwashaal 'n besondere gedig te lewer.

In die langer vers, soos in "Prototipe", vind 'n mens 'n amper-retoriese segging met 'n uitroep en al. Dalk bedoelde parodie, maar dit oortuig nie heeltemal nie.

In "Porno lounge" wil die digter klaarblyklik soos in sy kabarettekste opstuur en sosiale kommentaar lewer:

O mens, na sinsverrukking wag altyd weer die niet: Klank-en beeldorgiee kan slegs verposing bied.

Dieselfde geld "Liefde in vier bedrywe" en "Drie verse oor die liefde" met sy moraliserende slot:

Naskrif Wag tot jy jou jare kry voor jy liefdesverse lees en pleeg, want laggende ontdek jy l'amour was net 'n skim gewees.

Uit die gevormde kuns is daar beslis kuns te maak: dit bewys "Cyril redivivus", "Ja, das Meer ist blau, so blau" bewys. Ek is absoluut van mening dat die korter vers Aucamp se metier is en dat die langer vers soms oorwoeker word deur die moralistiese toon of deur metriese patroon wat dreunerig opslaan.

Daar is eweneens kabarettekste opgeneem soos "Die wederkoms: variasies op temas in Raka" wat met die vorige Prins Raka dans. 'n Moet vir die Aucamp-liefhebber.

Aucamp het belangrike werk gelewer as beoefenaar van die kortkuns, dramaturg, dagboekskrywer, bloemleser en as skrywer van kabarettekste. As digter moet sy bydrae nie ontken word nie. Hierdie bundel, soos Dryfhout (Tafelberg, 2006), is vir die mentor van jong digterstudente van onskatbare waarde, omdat die digter Aucamp vorme verruklik beoefen. Soos byvoorbeeld die Shakespeariaanse sonnet. Of die distigon.

 

BNET TalkbackShare your ideas and expertise on this topic

Please add your comment:

  1. You are currently: a Guest |
  2.  

Basic HTML tags that work in comments are: bold (<b></b>), italic (<i></i>), underline (<u></u>), and hyperlink (<a href></a)

advertisement
advertisement
  • Click Here
  • Click Here
  • Click Here
advertisement
Click Here

Content provided in partnership with Thompson Gale