Geskrifte van 'n vermiste digter

Tydskrif vir Letterkunde, Autumn, 2009 by Bernard Odendaal

Geskrifte van 'n vermiste digter.

Henk Rall. Pretoria: Protea Boekhuis. 2008.

156 pp. ISBN: 978-1-86919-187-0.

Henk Rall, een van die minder bekende Sestigers, het tussen 1966 en 1982 vyf digbundels die lig laat sien. Met sy kortverhale, waaronder die meermaals gebloemleeste "Omba muungu", het hy groter bekendheid verwerf. Twee romans uit sy pen het ook al verskyn.

Rall het 'n gebeurtenisryke lewe gelei as jagter, reisiger en mediese navorser, sodat hy lang tye buite Suid-Afrika woonagtig was. Anders as in sy vorige bundels vind relatief min hiervan neerslag in Geskrifte van 'n vermiste digter (voortaan tot Geskrifte afgekort). Met hierdie bundel keer hy, na 'n digterlike swye van 'n kwarteeu, as 't ware eerder terug na die kontrei van sy vorming as mens, naamlik die Noord-Kaap.

Dit gebeur veral in die openingsafdeling, "Onthou", en in die vierde afdeling, waarvan "Uitse" die titel is en waarin veral sosiaal-polities betrokke en religieuse verse voorkom. In laasgenoemde afdeling klink (fasette van) Noordwestelike Afrikaans, ook al breedweg as Oranjerivier-Afrikans bestempel, meer opvallend op, sodat die outentiekheid en intimiteit van die segging vergroot word.

'n Kennelike liefde vir die bepaalde kontrei, sy gestroopte aard, sy menstipes en hul kenmerkende tongval, is iets wat Rall deel met onder meer die Van Wyk Louw van Nuwe verse, met S. J. Pretorius en Boerneef, en uit meer onlangse tye met Donald Riekert en George Weideman--selfs ook met Hans du Plessis, Thomas Deacon en Euodia Engels, hoewel hy nie laasgenoemde drie se ver gevoerde nabootsings van Griekwa-Afrikaans benut nie. 'n Gedig soos "Skawagters" herinner voorts aan D. J. Opperman se gewilde "Kersliedjie".

Daar is ook nog afdelings waarin oor kuns, die kreatiewe proses en digterskap besin word (afdeling 2, "Skep"), waarin die liefde en die erotiek as temas oorheers (afdeling 3, "Liefhe") en, ten slotte, waarin gekyk word "'op 'n leeftyd en die doderyk' en na geloof teen die agtergrond van wetenskaplike kennis" (soos in die uitgewersbrief oor die afdeling "Besin" verduidelik word).

'n Ekologiese bewustheid, asook 'n nietigheidsbesef wat in sowel kosmiese en ewolusionistiese as religieuse terme beleef word, val voorts op in die slotafdeling:

Meteoriet

   Onder 'n kranslip
   in 'n dro' pan se kring,
   tussen klip
   en brosdoring;
   op 'n plek
   waar stiltes duur
   en 'n sonvlek
   die middaguur

   besit; in fel,
   geskokte lig
   het eens hel
   uit die lug

   geval (vuur-van-klip
   gebrand
   met suurstof)
   stof) glasige sand

   in--waar na miljarde
   eeue iemand
   in sy later jare
   self met vure brand.

Verreweg die opvallendste faset van Geskrifte is egter die vormgewing van die gedigte, soos al uit die aangehaalde vers behoort te blyk. Anders as wat meestal die geval was in Rall se vorige bundels, is dit naamlik vaste(r) vorme, soos die sonnet en gedigte in paarrymende distigons en in (veral kruisrymende) kwatryne, wat oorheers.

In verse oor die karige omgewing van die droe Noordweste dra sulke vaste vorme by om die strakheid van daardie wereld te suggereer--en word die suggestie nog sterker gemaak deurdat die versreellengtes meestal kort gehou word en deurdat die strofes selde die kwatrynlengte oorskry, soos in die gedig hierbo. Soms verswyg die digter ook nog die "ek" as subjek van die sin om die indruk van onpersoonlike gestrooptheid te versterk. Vergelyk in hierdie verband die volgende gedig:

Verbeelding

   Op 'n middag
   op my rug

   die lug
   besigtig

   waar beelde
   en figure

   soos in 'n droom
   verbystroom

   in 'n stoet
   magiese speelgoed

   met bokant alles
   in die cirrus

   'n aartsengel se
   veerwolkvlerke.

Waar die (Noordwestelike) spreektaal opvallend gemaak word, of woordspel op die voorgrond tree, bereik dit in samehang met die vormvastheid meermale 'n speelse en vernuftige kwaliteit wat aantreklik is. Gedigte soos "Coq au vin" en "Noag" is voorbeelde hiervan.

In die meeste gedigte in Geskrifte skep Rall egter 'n haglike tipografiese spanning deur die opmerklike wyses waarop hy enersyds eindrympatrone handhaaf (selfs, soos hierbo gesien kan word, deur woordsamestellings te ontheg), andersyds juis daardie patrone laat vervaag deur half- of swakryme (waar byvoorbeeld beklemtoonde en onbeklemtoonde lettergrepe rym) te benut. Die spanning is ook sterk voelbaar in die wyse waarop sekere vastighede van byvoorbeeld die Italiaanse sonnet volgehou, maar ander klassieke kenmerke van die vorm, byvoorbeeld metriese en versboureelmatighede, in die wind geslaan word.

Soms is daar 'n goeie saak uit te maak dat derglike tipografiese spanningskepping funksioneel is (byvoorbeeld as medesuggestief van die "stil, verhewe lig" wat terselfdertyd "vervlietend sypel" in "Monet"; of van die "steierende stoei" en "heup-ontwrigte worsteling" in "Gauguin"; of van die "skoongewerkte marmer" na die "droom se end" toe in "Camille Claudel"). In te veel gevalle lyk dit egter na rym ter wille van die rym en na vorm ter wille van die vorm. Rym- en vormdwang dus.

 

BNET TalkbackShare your ideas and expertise on this topic

Please add your comment:

  1. You are currently: a Guest |
  2.  

Basic HTML tags that work in comments are: bold (<b></b>), italic (<i></i>), underline (<u></u>), and hyperlink (<a href></a)

advertisement
Click Here
advertisement
  • Click Here
  • Click Here
  • Click Here
advertisement
Click Here

Content provided in partnership with Thompson Gale