Arts Publications
Topic: RSS FeedJasmyn
Tydskrif vir Letterkunde, Autumn, 2009 by Johan Coetser
Jasmyn.
Pieter Fourie. 2008. Pretoria: Protea
Boekhuis. 67 pp. ISBN 978-1-86919-260-0.
Pieter Fourie, wat onder andere met die Hertzogprys vir Drama in 2003 bekroon is, se jongste gepubliseerde drama Jasmyn (2008) sit 'n opvallende tema in die oeuvre voort, maar herskryf dit ook. Dit is die voorstelling van vroue wat in lewensituasies verkeer waarin hulle teenoor 'n patriarg of 'n vorm van patriargale magsuitoefening te staan kom. Waarskynlik die bekendste voorbeelde van hierdie magsverhouding is Fourie se voorstelling van 'n epileptiese Anna in Ek, Anna van Wyk (1986), of Anna Cronje in Die koggelaar (1988). Anna van Wyk word deur haar skoonvader, Senior, die kerk en die gemeenskap tot ongewensde huweliksmaat en "teeldier" gereduseer, met die gevolg dat haar plek deur 'n "geskikte" plaasvervanger ingeneem word. Anna Cronje moet vir haar man, Boet, 'n nageslag verseker en daarom word sy in die veld gelaat sodat haar liggaam die geskikte temperatuur kan bereik om Boet se wens waar te maak.
Dat die hoofkarakter, Beulah, in Jasmyn (2008) nie by dieselfde magsverhoudings as sommige vrouekarakters in Fourie se vroeere dramas betrokke is nie, word gou uit die handelingsverloop duidelik. Anders as in die geval van die twee Anna's is Beulah aanvanklik vol selfvertroue en handhaaf, selfs domineer, sy haarself teenoor haar een-en-sewentigjarige persoonlike stilis, Dennis. Dit geld ook van haar nuwe persoonlike assistent, Jerome, wie se posbetiteling Dennis "wyslik interpreteer as chauffeur, gourmet chef, lyfkneg en katelknaap" (8). Selfs baron Carlos, 'n vorige minnaar, word in die vorm van 'n skildery tot stomme voyeur gereduseer, al erf sy van hom veertig miljoen rand.
Beulah se voorstelling sluit by voorstellings aan van karakters in Fourie se dramas wat breedweg na 2000 gepubliseer is. 'n Voorbeeld is Koggelmanderman (2003), waarin 'n twee-en-sestigjarige boer met 'n uitgetrede ballerina trou wat op die buurplaas kom boer het. Die stuk begin met 'n konfrontasie tussen boer en koggelmander, maar dit word, soos in Jasmyn, gou duidelik dat die koggelmander die boer se libido in 'n verhulde, seksuele sin verteenwoordig (Van Rensburg 2003: 11). Daarenteen is daar in Jasmyn eksplisiet van libido in 'n seksuele betekenis sprake. Waar die klem in Koggelmanderman op die manlike ervaring van libido val, val die klem in Jasmyn op die vroulike ervaring daarvan, soos wat dit onder andere uit die vroulike register in die dialoog blyk. Vergelyk byvoorbeeld Beulah se kritiek op Jerome se "slap boudjies en daai linkerhangskouertjie" (10), of die slotgedeelte van die eerste bedryf waarin sy hom doelbewus verlei (28-41). Hierdie verleiding is haar nakoming van die baron se voorwaarde wat haar in staat stel om haar erflating te ontvang. Haar triomfantelike uitroep aan die einde van die bedryf, "Eureka!" (41), is 'n aanduiding dat sy aan die voorwaarde voldoen het.
Sy is egter soos die boer, Karel, in Koggelmanderman, 'n "has been", "'n vervalle ou skoonheidsikoon" (vergelyk die flapteks), en baron Carlos se erflating is slegs die motoriese moment wat tot hierdie gevolgtrekking lei. Sy ontvang die geld op voorwaarde dat sy 'n minnaar werf wat minstens twintig jaar jonger as sy is en dat sy 'n verjongingsprogram voltooi wat plastiese chirurgie, sielkundige berading, hormoonbehandeling en identiteitsmanipulasie, of die skep van ikoonstatus, insluit. Die skep van ikoonstatus moes saamhang met die internasionale vrystelling van 'n skoonheidseep wat na haar vernoem sou word, naamlik Beulah Jasmine.
Beulah se insig in haar has been-status en haar situasie breek slegs momenteel in die slot deur in haar erkenning teenoor Dennis dat sy al vir drie maande lank blomme aan haarself stuur asof dit van beroemde glansmense kom. Dit lei Dennis daartoe om op te merk: "Tyd is 'n bloedhond. Altyd op jou spoor. Niemand ontsnap hom nie." (63) Omdat sy die produk van identiteitsmanipulasie is, met ander woorde soos die jasmynblommetjie van diamante, sonder enige geur (66-67), wat sy in die slot wil laat maak, kan sy, soos Lorca se karakter, Yerma, nie uit haar tragiese, geisoleerde lewensituasie ontsnap nie. Daar word onder andere op die slotbladsy na Lorca as interteks verwys.
Die dramateks se motto vang iets van hierdie tragiese eensaamheid vas. Die woorde kom uit die tweede deel ("Putting It Together") van F. Scott Fitzgerald se opstelreeks getitel The Crack-Up wat in Maart 1936 in die Amerikaanse tydskrif Esquire verskyn het (Fitzgerald 2008). Soos in die geval van Lorca se karakter, val die ooreenkomste tussen Fitzgerald en Fourie se karakter Beulah op. Die motto lui soos volg--die gedeelte wat in die gepubliseerde teks opgeneem is, word met behulp van skuinsdruk aangedui:
But at three o'clock in the morning, a forgotten package has the same tragic importance as a death sentence, and the cure doesn't work--and in a real dark night of the soul it is always three o'clock in the morning, day after day. At that hour the tendency is to refuse to face things as long as possible by retiring into an infantile dream--but one is continually startled out of this by various contacts with the world. One meets these occasions as quickly and carelessly as possible and retires once more back into the dream, hoping that things will adjust themselves by some great material or spiritual bonanza.
Most Recent Arts Articles
- Slumdog comprador: coming to terms with the Slumdog phenomenon
- Still mining his Winnipeg: an interview with Guy Maddin
- It doesn't seem 'Canadian': quality television' and Canadian-American co-productions
- Second city or second country? The question of Canadian identity in SCTV'S transcultural text
- Hop on pop: jiangshi films in a transnational context
Most Recent Arts Publications
Most Popular Arts Articles
- What makes a successful business person? Business people who are tops in their field have a lot in common, and art professionals can learn a lot from their successes and strategies
- The Arnolfini double portrait: a simple solution
- Text and countertext in Rosario Ferre's "Sleeping Beauty."
- Toni Cade Bambara's use of African American Vernacular English in "The Lesson"
- Sapphire's big push


