Arts Publications
Topic: RSS FeedDie dag toe ek my hare losgemaak het
Tydskrif vir Letterkunde, Autumn, 2009 by Jacomien van Niekerk
Die dag toe ek my hare losgemaak het.
Willemien Brummer. 2008. Kaapstad:
Human & Rousseau. 144 pp.
ISBN: 978-0-7981-4980-8.
Die gesoute joernalis Willemien Brummer se prosadebuut is 'n unieke en boeiende versameling kortverhale. Eerder as 'n losse groepering van tekste, is die 'n deurgekom-poneerde bundel waar elke verhaal dieselfde hoofkarakter het--Mia Ragel Albertyn--wat in verskillende lewensfases haar verskyning maak. Gevolglik kan die bundel byna as 'n soort "mini-roman" gelees word, veral omdat die verhale chronologies op mekaar volg, beginnende by Mia se twaalfde verjaardag. Tog bly dit 'n kortverhaalbundel en die verhale staan ook beslis op hul eie. Elke verhaal vorm 'n afsonderlike eenheid, maar die verhale bou ook op mekaar voort en elke verhaal verkry bykomende betekenis deur die verhale waardeur dit omring word.
In die titelverhaal, byvoorbeeld, speel die ruimte van die Karooplaas--'n belangrike faset van Mia se kinderjare--kragtig in op die hede en haar verhouding met Mario, die fotograaf. "Toe ek klein was, het ek gedroom van 'n dogtertjie wat deur 'n jakkals beetgekry is. Haar hare het nooit weer teruggegroei nie. Haar kop was kaal en bleek, haar oe sonder kleur. [...] Soggens het sy opgegooi." In die verhaal "Free-range whole bird" is Mia die een wat elke oggend moet opgooi. Die verhaal is dus 'n saamtrekking van verskillende temas en motiewe in die bundel, asook van verskillende distansieringstegnieke waardeur Mia haarself verken. Die karooplaas is die setel van haar kleintydvrese vir jakkalse, maar ook die plek van haar eerste seksuele bewuswording (vergelyk die verhaal "Het jou!"). Ook die titelverhaal handel uiteindelik oor 'n tipe seksuele oorgangsrite wat aanvanklik skrikwekkend maar uiteindelik bemagtigend is.
Nie al die verhale is so diggeweef soos "Die dag toe ek my hare losgemaak het" nie, maar veral "Het jou!", "Free-range whole bird", "Kunstenaars" en "Skerwe" maak 'n sterk indruk. In laasgenoemde verhaal weerklink die ontstellende vraag wat 'n minnaar, Philip, in "Die dag toe Toorvoet stil geword het" aan Mia stel: "Was jou hele familie versteurd?" (82) Dit is die vraag wat Mia in "Skerwe", wat 'n keerpunt in die bundel vorm, op kliniese wyse moet konfronteer. In die slotverhaal van die bundel word die tema van oorerwing uiteindelik in 'n positiewe lig geplaas met die aanhaling uit Goethe se Faust: "Wat jy van jou vadere geerf het: verdien dit self om dit te besit" (138). Waar dit op 'n stadium in die bundel lyk of Mia verder en verder spiraal in die onkeerbare oorsaak-en-gevolg van familieen gesinslede se persoonlikhede en probleme, en eie traumatiese kindertydervarings (vergelyk die voorlaaste verhaal, "The persistence of memory"), gee hierdie laaste verhaal aan haar die mag om lewegewende besluite oor haarself en haar eie kind te maak.
Daar is 'n donker kant aan Mia se soektog na selfkennis en -begrip, 'n soektog wat voortdurend uitspeel in haar konfrontasie met haar voorouers--die wat al lankal oorlede is, soos die ouma wie se naam sy dra--maar ook veral haar ma en pa. Baie van die ontdekkings wat sy maak, is nie aangenaam nie, net soos wat haar selfontdekking dikwels pynlik is. Hierdie aspek verhef die kortverhale tot meer as anekdotes en gee aan hulle 'n oortuigende en aantreklike "edge". Tog behou die verhale veel van die alledaagse rituele van menswees en kos is onder andere 'n belangrike en interessante tema. Feitlik elke verhaal sentreer rondom 'n maaltyd van die een of ander aard. Daar is etes wat misluk, etes wat in ontsteltenis eindig, etes wat versoening probeer bewerkstellig. So word hulle draers van die spanninge waarvan Mia se verhoudings aanmekaarsit, of juis 'n oplossing van daardie spanninge. Onder andere sinjaleer die verskillende maaltye in die bundel die verskillende fases van Mia se volwasse-wordingsproses--die vernaamste tema van die bundel.
Dit is duidelik dat baie tyd aan die sorgvuldige afwerking van Brummer se bundel bestee is. Die voorbladontwerp vat die essensie van die bundel op treffende wyse saam. 'n Mens is hoopvol dat sy in toekomstige werke die belofte wat hierdie debuut skep, sal vervul met tekste wat dieselfde fyn uitmekaarhaal van individuele psiges en kollektiewe emosies en dieselfde gawe vir understatement vertoon, maar ook dat daar groter vryheid in styl en verskeidenheid in toon en tema sal ontwikkel.
Die bundel sou waarskynlik nog 'n positiewer indruk gemaak het as daar nie die ewige behoefte by baie skrywers was om sorgvuldig dank en skatpligtigheid (in die "Erkennings") uit te spreek nie. Miskien is dit bloot 'n persoonlike hebbelikheid, maar dit lyk of die vrees vir plagiaataantygings tot so 'n mate die oorhand van Afrikaanse skrywers begin kry dat die erkenning van bronne en invloede soms aan die belaglike grens. Dit is tog heeltemal onnodig om The Glass Menagerie (Tennessee Williams) in die erkennings te vermeld as die teks op bladsy 14 eksplisiet genoem word, om nie te praat van die oorbodigheid van die titels van alombekende sprokies soos "Rooikappie en die Wolf " of Die Bybel nie. Dit is een ding om jouself te vrywaar, maar Die dag toe ek my hare losgemaak het is immers Brummer se debuut--nie die eerste kontemporere boek wat haar lesers optel nie. Hierdie milde irritasie ten spyt is die bundel beslis die lees werd.
Most Recent Arts Articles
- Slumdog comprador: coming to terms with the Slumdog phenomenon
- Still mining his Winnipeg: an interview with Guy Maddin
- It doesn't seem 'Canadian': quality television' and Canadian-American co-productions
- Second city or second country? The question of Canadian identity in SCTV'S transcultural text
- Hop on pop: jiangshi films in a transnational context
Most Recent Arts Publications
Most Popular Arts Articles
- What makes a successful business person? Business people who are tops in their field have a lot in common, and art professionals can learn a lot from their successes and strategies
- The Arnolfini double portrait: a simple solution
- Text and countertext in Rosario Ferre's "Sleeping Beauty."
- Toni Cade Bambara's use of African American Vernacular English in "The Lesson"
- Sapphire's big push


