Sonkyker. Afrikaner in die verkeerde eeu

Tydskrif vir Letterkunde, Autumn, 2009 by H.P. Grebe

Sonkyker. Afrikaner in die verkeerde eeu.

J. C. Steyn. Tafelberg: Kaapstad. 2008.

408 pp. ISBN: 978-0-624-04648-6.

Stories oor 'n verbygegane tyd, maar waarsonder ons onsself nie kan begryp nie. Miskien is dit die rede dat die jongste outobiografiese boek van J. C. Steyn my so aangegryp het. Die treffende titel van die boek en die foto van die jong knaap met die deurdringende afstandelike kyk verklaar die krag van hierdie lewensverhaal.

Dit titel verwys na daardie so tipiese klein Suid-Afrikaanse reptiel, die gordelakkedis, ook bekend as skurwejantjie. Dit is natuurlik nie om dowe neute nie, want Steyn vertel regdeur vanuit die perspektief van die plaasjapie wat hom steeds effe vreemd voel op die dorp en in die stad--as ander later werk toe ry met hul motors, stap of fiets hy steeds; hooguit neem hy soms die bus of trein en as hy later wel 'n motor aanskaf, moet hy Saterdae 'n ent gaan ry om te verhoed dat die battery afloop. By Abrahamskraal draai hulle dan om. Hierdie ritte het in sigself geen eindpunt nie, want met sy moeder word dit tot 'n taal- en landskapspel getransformeer: "'Al Abrahamskraal?' of: 'Abrahamtal', of 'Abrahamsput' of 'Izaksput'. Tot dit later 'Dis Abrahamsverdwyn!' word.

Soos die skugter diertjie daar op die platklip in die son, dra hy 'n hele prehistorie met hom saam as hy 'n kultuurlewe om hom fyn registreer en verhaal. Maar soos die ouvolk, bly hy skugter afstandelik--sober; en tog kan hy die warmte van die klipplaat wat hom koester nie ontbeer nie. In hierdie oenskynlike teenstrydigheid le die fassinerende van Steyn se verhaal. Soos die vinjette aan die begin van elke hoofstuk word sy verhaal ook die verhaal van 'n gesin, 'n familie, 'n vrien-dekring en 'n volk en gemeenskap.

Steyn knoop sy verhaal aan die van M. E. R. as hy haar in sy motto voorin aanhaal: "As ek nou terugkyk op my eie lewe en op wat ek van die voorgeslagte weet, dan sien ek dit kon nie anders nie: dit is 'n kwessie van self-behoud, van dood en lewe." Ook sy verhaal begin op Swellendam--die bakermat van die Afrikaner se pioniersbestaan in Afrika. Sy oupagrootjie was agterkleinseun van Hermanus Steyn wat in 1795 met die opstand van Swellendamse burgers teen die vreemde dwingelandy van die Vereenigde Oost-Indische Compagne in opstand gekom het en tot "praesident" van die nuwe nasionale vergadering verkies is. In die voorgeslagte was daar ook nog 'n kwaksalwer, 'n "tweedeklasrebel" en 'n bittereinder.

Daar is reeds op gewys dat 'n persoonlike geskiedenis uitgroei tot volks- en gemeen-skapsgeskiedenis. Taferele van 'n hele eeu tot en met die afsluiting van 'n era en die aanvang van die nuwe tyd word voor die gees geroep--die lewende en die dode, die goeie en die bose. Treffend is die skynbaar onskuldige anekdote oor die simboliese Ossewatrek van 1938. Die trek, gereel deur die ATKV, begin met onmin en 'n gebrek aan belangstelling. Die belangelose wilskrag van 'n oom Tienie van Schoor het die wiele aan die rol gekry, maar toe die wiele eenmaal rol, is hy oor die hoof gesien en in sy plek het H. J. Klopper hoofleier geword! Ontluisterend, maar al te waar! Ook apartheid kom onder die loep: "[d]ie 'nalatenskap van apartheid': is dit slegs negatiewe dinge soos armoede en leed ...?"

Vir hierdie resensent was veral die gedeelte "Eindes en beginne" insiggewend en fassinerend. Hierin word vertel van F. W. de Klerk se aankondiging op 2 Februarie 1990 en die "eienaardige burgeroorlog (wat) onder Afrikaanstaliges begin (het)." 'n Felle taalstryd rondom Afrikaans vlam op. Die name van diegene wat alles feil had vir Afrikaans en die wat gemeen het dat Afrikaans, om welke rede dan ook, hom skaars moes hou, kom met doek en tafel voor die dag.

Ook die ondertitel van die boek "Afrikaner in die verkeerde eeu" konfronteer die leser: Was daar dan 'n regte tyd? Vir wie is die tyd nou reg? Le die goeie tyd nog voor die deur? Hieroor laat Steyn nie veel los nie; hy registreer gewoon die trillinge (sidderinge?) in die samelewing en daag die leser uit om self te beslis, of minstens daaroor na te dink.

Die boek is in 'n elegiese toonaard geskrywe, maar verval geensins in melancholie nie. 'n Vir goed agterhaalde era met sy wel en sy wee word nugter in herinnering geroep en treffend tot voleinding gebring met die oorlye van die skrywer se moeder. Hy dink aan haar terug en onthou hoe sy altyd graag geneurie of hardop gesing het as sy dag dat niemand haar hoor nie: "altyd met 'n blye hart" en hoe sy steeds bly hoop het dat iedereen tog die radiopreek kon hoor waarna sy eens op 'n Sondag ingeluister het: Moenie vir mekaar kwaad word op die pad van Suid-Afrika nie. Van Wyk Louw spreek die slotwoorde van hierdie outobiografiese vertelling: "Miskien sal [n]iemand later / [tog] mooi dinge van ons weet."

H. P. Grebe

Universiteit van Pretoria, Pretoria

COPYRIGHT 2009 Tydskrif vir Letterkunde
COPYRIGHT 2009 Gale, Cengage Learning

 

BNET TalkbackShare your ideas and expertise on this topic

Please add your comment:

  1. You are currently: a Guest |
  2.  

Basic HTML tags that work in comments are: bold (<b></b>), italic (<i></i>), underline (<u></u>), and hyperlink (<a href></a)

advertisement
Click Here
advertisement
  • Click Here
  • Click Here
  • Click Here
advertisement
Click Here

Content provided in partnership with Thompson Gale