Versindaba 2008

Tydskrif vir Letterkunde, Autumn, 2009 by Bernard Odendaal

Versindaba 2008.

Marlise Joubert (samesteller). Pretoria:

Protea Boekhuis. 2008. 98 pp.

ISBN: 978-1-86919-267-9.

2008 was reeds die vierde jaar waarin, telkens oor die eerste Septembernaweek, 'n "Versindaba" op Stellenbosch aangebied is. Dit het gegroei tot 'n jaarlikse bestekopname en viering van die hedendaagse Afrikaanse digkuns, by-voorbeeld deur die enigste prys eksklusief vir Afrikaanse poesie toe te ken. Breyten Breyten-bach was vanjaar die wenner van die Proteaprys, naamlik vir sy reeds herhaaldelik bekroonde bundel uit 2007, Die windvanger.

Die resep is nou al 'n beproefde een. Sowel gevestigde as "opkomende" digters word betrek. Die genooide gevestigdes is hoofsaaklik digters van wie in daardie of die voorafgaande jaar nuwe bundels verskyn het. Vanjaar is die kollig bowendien spesifiek op digters gewerp wat ook as beeldende kunstenaars aktief is: Andries Bezuidenhout, Trienke Laurie, Ilse van Staden, Rosa Smit, Carina Stander, en so meer. Onder die opkomendes tel digters wat in daardie of die vorige jaar solodebute die lig laat sien het (Ronelda S. Kamfer en Loftus Marais onder die 2008-groep), maar ook jong belowendes wat nog net in tydskrifte, bloemlesings of op webblaaie van hulle kon laat hoor.

Daarby word 'n bundel saamgestel uit 'n keuse van gedigte van die digters wat aan die geleentheid deelgeneem het, om sodoende "'n momentopname van die Afrikaanse poesie" van die betrokke jaar te bied (luidens Nicol Stassen in die voorwoord tot Versindaba 2008). Gehalte bly die eerste maatstaf vir opname, maar daar word ook gestreef om 'n beeld te gee van die verskeidenheid digwerk wat binne daardie tydbestek gelewer is.

Verse van sewentien gevestigde digters verskyn in Versindaba 2008. Dis inderdaad 'n "plesier" (soos in die uitgewersbrief voorspel word) om die uiteenlopende verskeidenheid werk van oorwegend hoe gehalte deur hierdie geslypte woordkunstenaars te lees. Ek het bykomende vreugde daaruit geput om die stemme te verneem van mense van wie relatief lanklaas op poesiegebied gehoor is: Johann de Lange, Johan Myburg, Rosa Smit en Marlene van Niekerk, byvoorbeeld.

Wat opval van 2008 se debutante of belowendes is dat 7 uit die 8 van hulle nog in hulle twintigerjare staan, en dat net soveel van hulle produkte van die Universiteit van Stellenbosch is. Laasgenoemde word verstaanbaar as die moontlike koste-implikasies daarvan om jonges van elders na Stellenbosch te lok vir die indaba, in ag geneem word. Tog hou so 'n toedrag van sake die gevaar in dat die Versindaba nie heeltemal die oogmerk van verteenwoordigendheid sal bereik nie.

Miskien moet ander universitere sentra in die land, in samewerking met die organiseerders van die indaba, 'n plan maak om hulle eie belowende "produkte" finansieel te steun sodat hulle aan die besonderse geleentheid op die literere kalender kan deelneem?

Versindaba 2008 verskaf nogtans 'n positiewe beeld van die Afrikaanse poesie. Die vrugte word gepluk van onder meer die moedige insette van Protea Boekhuis sedert 9 gelede toe publikasiegeleenthede vir Afrikaanse digters byna opgedroog het. Stassen, baas van Protea Boekhuis, gee in die voorwoord van die onderhawige bundel 'n idee van hoe gesond die toestand huidig is. Gedurende 2007 het 16 nuwe Afrikaanse digbundels verskyn: sewe by Protea Boekhuis, vier by NB-uitgewers, twee by Genugtig! en een elk by Lapa, Bent en Praag. Trouens, in 'n onlangs gepubliseerde artikel op LitNet Akademies kon Leti Kleyn selfs konstateer dat die poesie op die oomblik as die bevoorregte genre van die Afrikaanse letterkunde beskou kan word.

Bernard Odendaal

Universiteit van die Vrystaat,

Bloemfontein

COPYRIGHT 2009 Tydskrif vir Letterkunde
COPYRIGHT 2009 Gale, Cengage Learning
 

BNET TalkbackShare your ideas and expertise on this topic

Please add your comment:

  1. You are currently: a Guest |
  2.  

Basic HTML tags that work in comments are: bold (<b></b>), italic (<i></i>), underline (<u></u>), and hyperlink (<a href></a)

advertisement
advertisement
  • Click Here
  • Click Here
  • Click Here
advertisement
Click Here

Content provided in partnership with Thompson Gale